PORTCHIE
Gebore 23 November 1963 in Pietersburg. Groei op in Tweeling in die
Vrystaat. 'n Seun van 'n groenteboer en winkeleienaar. Matrikuleer aan
Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en kry sy B-Com graad in
Stellenbosch.
In 1991 begin ek skilder as 'n stokperdjie en later doen ek
huisuitstallings. In 1994 doen ek 'n groot solo uitstalling met 100
werke en verkoop alles in een aand en besluit toe om skilder 'n voltydse
beroep te maak. Ek verhuis in 1995 na Stellenbosch waar ek 'n studio
begin. Stelselmatig het gallerye by my begin werke aankoop.
Nuwe solo uitstallings het gevolg. Tot op hede het ek 57 solo en 39
deeluitstallings gehad (binnelands sowel as oorsee). My werke is
opgeneem in groot privaat, sowel as maatskappy versamelings. Ek het tot
nou meer as 8 000 werke gemaak en verkoop. Ek skryf die sukses van my
werk toe aan die unieke karakter daarvan. My werk is 'n mengsel van
impresionisme en ekspresionisme, op 'n naiewe manier.
Persoonlik dink ek dis makliker om 'n vars styl te begin sonder die
invloed van 'n klomp leermeesters. Ek werk met 'n vreugdekonsep en
vreugde kan die beste beskryf word met kleur - so, my werk is baie
kleurvol. My bome in my landskappe, doen ek altyd met skakerings van
bloue, omdat ek glo die lug filtreer deur die bome en die lug is tog
blou. As soveel blou deur bome gaan, moet dit tog later afsmeer daarop.
Ek werk graag met mense wat eenvoudige dinge doen in skilderye, soos
mense wat lees of fietsry of touspring. Op 'n uitstalling werk ek
gewoonlik met 'n derde ou goed, 'n derde nuwe goed en 'n derde
eksperimentele goed. Ek moedig graag jong kunstenaars aan om altyd
eerder vars werk te lewer as om nabootsings van ander werk, goed te
probeer doen. Daar is nie 'n reg en 'n verkeerd in kuns nie. Die geheim
lê in die oorspronklikheid daarvan.